Die misterie van verhoudings

Inleiding
Daar word so baie oor verhoudings geskryf en gepraat en tog is die laaste woord nog nie nie gesê nie. Soms is dit positief, maklik, ongekompliseerd en hemels om bymekaar te wees. Soms raak dit negatief en ons raak verstrik in konflikte wat onopgelos bly en dan word ons mekaar se hel.

Die sisteembenadering in kommunikasie is ‘n praktiese en maklike manier om ons te help om‘n bietjie orde te skep in die verwarring wat verhoudings soms bring.
AFDELING A
Die Sisteembenadering in Kommunikasie
Die sisteem bestaan uit insette wat persoon A en B lewer in die onsigbare kommunikasieveld wat tussen hulle bestaan, nl.sisteem C. Diagrammaties kan dit as volg voorgestel word:

Kommunikasieveld Volgens hierdie benadering is daar drie voorwaardes vir hoë kwaliteit kommunikasie in sisteem C.

Eerlikheid. Dit beteken om te Sê wat jy bedoel en te Bedoel wat jy sê, omdat net eerlikheid  na Vertroue en Respek  in ‘n verhouding lei.
Maar eerlikheid kan koud en hard wees en groot skade in ‘n verhouding veroorsaak daarom is warmte so belangrik.

Warmte. Dit het te doen met die manier waarop ons met mekaar praat, die woorde wat ons gebruik, verbale kommunikasie, maar ook ons liggaamstaal of nie-verbale kommunikasie. Eerlikheid en warmte is noodsaaklik in ‘n verhouding, maar dan benodig ons ‘n nog dieper vlak van kommunikasie, nl. begrip of empatie.

Begrip of empatie. Dit beteken om begrip te hê vir mekaar se gevoelens en dit te verwoord en dit help ons om op ‘n dieper vlak, nl. emosioneel met mekaar kontak te maak.

Bespreking
Bogenoemde drie begrippe klink baie eenvoudig om uit te voer, maar dis glad nie so maklik nie, omdat

• As A eerlik is en B gebruik dit soms later in ‘n argument as ‘n wapen om seer te maak, leer A dat dit gevaarlik is om eerlik te wees en hou op daarmee.
• As ons besluit dit te gaan te veel skade veroorsaak, byvoorbeeld: sê nou maar ‘n jonger sussie word deur haar aanstaande swaer gemolesteer. Sy kan besluit om die familiesisteem te beskerm teen die waarheid en dit al die jare wat volg alleen dra. Baie mense voel dikwels verplig om mekaar teen die waarheid te beskerm.
• As ‘n derde persoon in die verhouding ingebring word kom dit gewoonlik een of ander tyd op die lappe en die gevolge is gewooonlik rampspoedig! Dis baie moeilik om vetroue en respek wat verbreek is, te herstel.
• As A en B in ‘n konfliksituasie gewikkel raak, vlieg warmte gewoonlik by die venster uit. Die kuns is om die konflik te hanteer en ‘n oplossing te probeer vind sodat daar weer warmte in die verhouding kan wees.
• In my spreekkamer sien ek baie dikwels mense wat geen idee het hoe hulle voel nie en dus glad nie instaat is om oor hulle emosies te kan praat nie of hulle maat se gevoelens te “lees” nie. Die implikasie is dat emosionele behoeftes nie bevredig word nie, dat een of albei nie VERSTAAN voel nie en dat dit ‘n emosioneel arm verhouding is.
• Ons filtreer wat ons sê deur ons eie persepsies, vooroordele, waardes, kultuur, selfbeeld, en nog baie meer. Die ander persoon doen dieselfde. Op een of ander manier moet ons deur mekaar se filters kom en die ware boodskap ontsyfer. Nog erger: Ons bou mure in sisteem C deur te onttrek, ignorer of te weier om ‘n saak te bespreek. Navorsing leer dat die persoon agter die muur veilig voel en meer beheer ervaar. Die een voor die muur raak egter gefrustreerd en onseker omdat hy/sy nie weet waar hy/sy met die ander person staan nie. Om te onttrek beteken meesal om jou maat êrens langs die pad te verloor.

Tog bly eerlikheid, vertroue en respek die basis van ‘n gesonde  verhouding. As dit ontbreek, is die kanse goed dat die verhouding verbreek sal word, of ‘n baie ongelukkige verhouding sal wees. Warmte in ‘n verhouding is soos die son op blomme in die tuin – daarsonder kwyn alles.

Sonder empatie onbreek ‘n belangrike, dieper dimensie in enige verhouding.

LET WEL: Die kommunikasieproses is nie afgehandel voordat dit nie vir A en B duidelik is wat die sender van die boodskap BEDOEL het nie. Die geheim is om altyd, as ‘n boodskap nie goed verstaan word nie, te vra vir verheldering of verduideliking tov die bedoeling van die boodskap.
Om saam te vat.
Baie mense se: “Ek moet WERK aan my verhoudings, maar min mense het die gereedsakp om regtig te weet HOE om dit te doen. Die sisteembenadering lê ‘n grondslag en gee ‘n idee van die basiese bestanddele van ‘n goeie verhouding. In Afdeling B, C, D en E word verdere gereedskapstukke bespreek.

Ek noem verhoudings ‘n “misterie”, omdat ons gedurig analitiese en sosiale oordeel moet gebruik terwyl ons besig om te kommunikeer. As ‘n taxi byvoorbeelsd skielik voor my inswenk, moet ek analiseer wat nou besig is om te gebeur en besluit hoe ek daarop gaan reageer. Dit help baie om ten minste net beheer oor ons emosies te behou en sosiaal toepaslik te reageer! Ons gaan honderde, indien nie duisende kere per dag deur die proses van analitiese- en sosiale oordele. Dis geen wonder dat ons soms struikel en die verkeerde dinge sê en doen nie, maar die misterie is daar – verhoudings werk tog nog!
AFDELING B
Selfgelding (assertiveness) is ‘n sleutelbegrip in verhoudings en tog verstaan min mense wat dit is en hoe dit werk. Dis een van die belangrikste gereedskapstukke in hoë kwaliteit verhoudings.

In terme van die sisteembenadering soos in afdeling A beskryf, is ‘n maklike definisie van selfgelding om toe te tree in sisteem en op 2 vlakke te Sê

• Wat ek regtig (dis waar die eerlikheid inkom) DINK, maw wat in my kop aangaan en
• Hoe ek regtig (weereens die eerlikheid) VOEL, maw wat in my hart aangaan

As ek bogenoemde eerlik doen, met warmte en begrip vir die ander persoon se gevoelens, kan dit nie skade doen nie. Inteendeel, dit help my om NEE te sê as dit is wat ek wil sê en gesonde grense in die verhouding te stel.

Selfgelding werk baie soos ‘n radio. ‘n Radio wat te sag speel word nie gehoor nie en maak nie ‘n verskil nie. ‘n Onselfgeldende persoon sal onttrek deur altyd liewer stil te bly, te beskeie en saggeaard te wees. Oorinskiklik (pleasing) wees is nog ‘n kenmerk en die gevolglike opkrop van emosies. Die gevolg? Frustrasie met die self bou op en ‘n uitbarsting kan volg of fisiese simptome soos hoof- maag- rugpyn of talle ander simptome. Opkrop van emosies kan uiteindelik ook‘n oorsaak van depressie wees.

Te veel selfgelding is weer soos ‘n radio wat te hard speel en ongemaklik op die ore val.

Gedrag waaraan dit herken kan word is mense wie se geraasvlakke baie hoog is; hulle kan maklik sarkasties, dominerend en ‘control freaks’ wees. Die eintlike woord wat te veel selfgelding beskryf, is AGGRESSIE. Aggressie kan op te minste 3 vlakke waargeneem word:

• Fisies – soos fisiese geweld – slaan, skop, met ‘n mes steek, skiet
• Emosioneel – op die ander persoon se gevoelens speel deur te manipuleer (dws iemand skuldig laat voel as hy/sy nie doen wat ek wil hê nie)
• Seksueel – molestering. verkragting

Is daar ‘n verskil tussen selfgelding en aggressie?

Beslis. As ek my woede kan beheer, kan ek selfgeldend optree. As my woede met my weghardloop, is ek nie meer in beheer nie, kan ek ontoepaslik optree en soms onherstelbare skade aan ‘n verhouding doen.

Tussen te min en te veel lê die balans: Sê liewer so gou as moontlik wat jy dink en hoe jy voel op ‘n volwasse manier met beheer oor jou emosies en vermy onnodige skade aan die verhouding.

Teen die tyd is dit baie duidelik dat selfgelding alles te doen het met konflikhantering. ‘n Persoon wat nie selfgeldend kan optree nie, sal dit baie moeilik vind om konflik effektief te hanteer.
AFDELING C
Konflikhantering
Ons erf on styl van konflikhantering gewoonlik van ons ouers. As jy nooit gesien het hoe jou ouers verskille hanteer het nie, omdat dit agter ‘n geslote kamerdeur gedoen is ‘ter wille van die kinders’, sal jou styl konflikvermyding kan wees. Of as konflik met aggressie hanteer is, sal jy dalk dink dis die manier om dit te doen.

Ek dink die lewe bestaan om van een konflik na volgende een te beweeg. Dis onmoontlik om ‘n konflikvrye lewe te hê. Die slim ding om te doen is om die kuns van effektiewe konflikhantering aan te leer en met gemak toe te pas – so gou as moontlik na die konflik.

Die beginsels van gesonde kommunikasie wat hier bespreek word, is ook die basis waar volgens konflikte soveel makliker hanteer kan word, al is dit nie juis ‘n aangename taak nie.
Wenke vir konstruktiewe konflikhantering
1. Bly by die punt. Moenie die geleentheid gebruik om ou koeie uit die sloot te grawe nie. Die ‘begrafnisse’ is waarskynlik ou konflikte wat nie deurgewerk is nie. Sit dit op ‘n ander konflikagenda en handel die een wat nou ter sprake is eers af, sodat die proses nie onnodig uitgerek word nie.
2. Leer jouself om nie ‘verdedigend’ te praat of te luister nie (non defensive listening and speaking). ‘n Styl van aanval/verdedig is ‘n baie arm styl van kommunikasie en ontaard dikwels in verwyte en beledigings. Dit help geensins om konflik the ontlont nie. (Deel D verduidelik die style verder)
3. “ Detoxifying self talk”, maw probeer eers verstaan. Kom ons gebruik ‘n voorbeeld: jou maat is laat en het vergeet het om brood te koop. As jy dadelik dink: “Ek verdien nie die soort behandeling, ek gaan dit nie langer verduur nie”, klim jy dadelik in die rol van die onskuldige slagoffer of die van geregverdigde verontwaardige! O wee…………
Vra liewer jouself: “Ooreageer ek dalk? Is dit die einde van die wêreld? Wat doen my maat gereeld wat tog die lewe vir my makliker maak? Miskien moet ek net eers uitvind waarom my maat laat is?”
4. Haal diep asem en ontspan eers ‘n bietjie.
5. Kritiseer altyd die persoon se GEDRAG, nie karakter nie, anders lok jy weereens ‘n verdedigende reaksie uit.
6. Moenie veralgemeen nie, dws woorde soos ‘altyd, nooit’ gebruik nie. Dis eenvoudig nie waar nie en sal lei na ‘n reaksie van “Maar wat van die tyd toe…..”
maw weer verdedigend.
7. Gaan na jou volwasse stem en bly daar. (Deel D)
8. Empatie is ‘n meesterlike manier om spanning te verlig, maw erken jou maat se gevoelens, bv. “Ek kan verstaan dat jy baie kwaad is.”
9. Moenie konflik systap nie. Lug jou griewe en onderhandel vir verandering voordat ‘n ontploffing plaasvind, indien moontlik.
10. Maak tyd as julle rustig saam is om te vra:” het daar die laaste paar dae iets gebeur wat jou omgekrap het?” Dit werk beter om ‘n saak te bespreek as albei partye ontspanne is en dit help om te verhoed dat konflikte eskaleer.
11. Wees geduldig. Dit neem tyd ou, negatiewe gedragspatrone te verander.
AFDELING D
Transaksionele Analise (TA)
Hierdie kommunikasie-model is deur Eric Bernes, MD ontwikkel. Dit het wêreldwyd soveel inslag gevind dat dit vandag nog van die Noorde tot die Suide, die Ooste tot die Weste gebruik word. As jy meer daarvan wil weet as net die basiese kerninligting wat ek vir hierdie bespreking insluit, Google net Transactional Analysis en kyk wat daar alles is.

Om die konsep van TA te verduidelik, die volgende voorbeeld: As jy by ‘n winkel sou instap, ‘n paar items in jou mandjie pak, na die kassier stap, betaal, jou kleingeld/strokie kry en jou pakkies optel en loop, het daar ‘n finansiële transaksie plaasgevind. In die kommunikasie-proses vind daar kommunikasie-transaksies plaas. Dis op hierdie transaksies wat TA fokus, met die doel om kommunikasie beter te verstaan en makliker te verander, as dit is wat jy graag wil doen.

Volgens TA is daar 3 egostate in elke mens: ‘n ouer, volwassene en kind. Die ouer kan met een van twee stemme praat en die kind ook. Dit beteken dat elkeen van ons met een van 5 stemme kan praat. Dieselfde geld egter vir die persoon met wie jy praat. As jy bewus is watter stem jy gebruik en by watter stem jy by die ander persoon aanhaak, verstaan jy die transaksie wat besig om plaas te vind. As jy dit dan nodig vind om die vlak van die transaksie te verander, kan jy dit maklik doen, mits jy natuurlik weet hoe.

Vervolgens ‘n kort beskrywing van die 5 stemme en ‘n diagram:

Vyf stemme

1. Die Kritiese Ouer (KO)
Dis die deel van die persoonlikheid wat foutvind en negatiewe kommentaar lewer. Kritiek word dikwels uitgespreek. As jy sensitief word om hierdie stem te identifiseer, hoor jy hoe dikwels dit in kommunikasie gebruik en misbruik word.
2. Die Versorgende Ouer (VO)
Hierdie deel probeer verstaan, ondersteun en is die sagte deel van die ouer.
3. Die Volwassene (V)
Dis die stem van die REDE. Dis die deel van persoonlikheid wat daarvan hou om te dink, feite te versamel, goeie besluite te neem en die besluite uit te voer. Dit hou ook die ander 2 dele, die ouer en die kind, uit die moeilikheid (indien moontlik) deur vooruit te dink en te beplan.
Die Kind is ‘n BAIE STERK deel van jou en my en hou daarvan om emosioneel
te reageer. Dit kan positiewe of negatiewe emosies wees.
4. Die Vry Kind (VK)
Die vry kind hou van pret en om aan al die ander emosies uiting te gee.
5. Die Aangepaste Kind (AK)
Dis die deel wat reageer in respons op die ander persoon se kommunikasie, maw Ek begin nie die kommunikasieproses nie, ek reageer op wat die ander persoon sê. Die AK kan ‘n rebelse, nukkerige of ‘n hele klomp ander response gee.

Toepassing. Sê nou maar ek kom moeg en gefrustreerd tuis en my maat sê dadelik vir my in ‘n stem wat ek beleef as die Kritiese Ouer: “Waar het jy my tjekboek gesit?” Ek kan nou kies met 1 van 5 stemme hoe ek gaan antwoord. As ek my vererg en ‘n Vry Kind respons gee, sê ek dalk kwaad: ”Hoe de joos moet ek weet waar is jou tjekboek. Kan jy nie jou eie goed oppas nie?” Waarskynlik sal my maat ook vereg wees en ‘n emosionele respons gee. Die transaksie het dan beweeg na die VK vlak wat een van die vlakke is waar konflik plaasvind. Konflikte word nie op hierdie vlak uitsorteer nie, ook nie op die Kritiese Ouer vlak, waar ek sonder die emosie, maar bv. met sarkasme sou kon antwoord. Twee KO stemme los ook nie konflik op nie. Dis net as 1 of albei na die volwasse stem beweeg, dat ‘n oplossing waarmee beide partye kan saamleef, gevind kan word, bv. “Ek weet nie. Wanneer het jy dit laas gehad?”

Dit sou ook moontlik wees om in die VO stem te antwoord en dalk te sê: “Ek sal dit dadelik vir jou gaan soek, hoor!”  Dit plaas natuurlik die laaste spreker in die ouer en die ander een in die kind posisie. Dit kan werk, maar definieer die verhouding om in die toekoms ook so te werk: Klap jou vingers en ek sal spring! Dit klink nie selfgeldend of volwasse nie.

Die laaste stem wat gebruik kon word, is die AK en dit sou bv. wees: “As die huis nie so deurmekaar was nie, sou goed ook nie so wegraak nie. Ek sal regtig iets daaraan moet doen.” Dis ‘n tipies slagoffer respons wat nie die probleem oplos nie.

DUS
As jy konflik effektief, konstruktief wil kanteer: bly in jou volwasse stem en tree selfgeldend, nie aggressief op nie.

Om saam te vat
Eric Bernes het heelwat geskryf oor “The Games People Play” waar hierdie 5 stemme (meesal onbewustelik) vasval in negatiewe kommunikasie- transaksies. Lees gerus verder daaroor op die Web of raadpleeg ‘n sielkundige as jy nie regkom nie.
AFDELING E
Differensiasie
Hierdie is ‘n konsep wat ek by David Schnartz in sy boek ‘Passionate Marriage’ geleer het. Dis uiters belangrik en plaas vir my die kersie op die koek van alles wat ons tot dusver gedoen het. Hy beskryf dit so:

“Differentiation involves balancing two basic life forces, the drive towards
individuality and the drive towards togetherness”

Let op die sterk woorde: “Two basic life forces” . Hy verduidelik dit as volg:

Ons word almal gebore as babas – nogal selfsugtige wesentjies wat al hulle behoeftes onmiddellik bevredig wil hê: honger, dors, nat, pyn ens deur te skree as daar ‘n onvervulde behoefte is. Die ouers is aan diens en moet vasstel wat die behoefte is en dit so gou moontlik vervul.

Algaande word die baba groter en begin ontwikkel – ‘n eie identiteit, belangstellings, selfbeeld, persoonlikheid, ens. Schnartz noem dit ‘n “sense of self” wat ek nie lekker vertaal kry nie en dus net so gebruik. Dit behels alles wat van my die mens gemaak het wat ek vandag is en van jou die mens wat jy is.

As die onwikkelingsproses van die ‘sense of self’ NIE goed verloop het nie, is dit tipies ‘n persoon met ‘n minderwaardigheidsgevoel en lae selfbeeld. As die proses goed verloop het, is die resultaat in selfgeldende persoon wat in eie reg kan wees wie hy/sy is.

As die proses te ver onwikkel, word die persoon weer soos die baba – selfsugtig. egosentries, wat van ander verwag om sy/haar behoeftes so gou as moonlik te vervul.

As die ‘sense of self’ buite verband ontwikkel, kry ons ‘n persoonlikheidsversteuring wat narsissisme genoem word. Dis mense wat glo”Die hele wêreld gaan oor MY”.

Soos onwikkeling aangaan, kom ons agter dat ons nie alleen op aarde is nie – daar – is ook ander mense met wie ons emosionele konneksies kan vorm. As die ‘sense of self’ goed ontwikkel het, is ons instaat om positiewe verhoudings aan te knoop en instand te hou.

As die proses nie goed ontwikkel het nie, bou die persoon‘n muur om hom/haar en hou mense op ‘n afstand. Dis moeilik om te weet waar jy met so ‘n persoon staan en die verhouding werk dan nie goed nie.

‘n Derde moontlike posisie is wat Schnartz noem “ emosionele Siamense tweelinge”.Dis mense wat oorafhanklik raak en maklik sê:”As jy die verhouding verbreek, pleeg ek selfmoord, want ek kan nie sonder jou leef nie.

Om op te som: Vra jou self die volgende vrae:

• Het ek ‘n positiese ‘sense of self’?
• Hou ek mense te veel op ‘n afstand?
• Is ek soos ‘n rankplant en versmoor ek my maat?

Dis nie altyd maklik om die balans tussen te onafhanlik, afhanklik en interafhanklik te kry nie, maar dit is moontlik.

As ek globaal na afdeling A, B, C, D en E kyk, is my gevolgtrekking: verhoudings is harde werk en dit hou nooit op nie. Maar as ek dit nog nie geleer het nie, ek kan

• Eerlik, met warmte en begrip vir my eie en my maat se gevoelens optree
• Selfgeldend wees
• Konflik effektief hanteer
• Bewus wees van die TA stemme en die ‘games people play’ hanteer
• Sorg dat my ‘sense of self’ positief is en ek goeie emosionele konneksies kan maak.

Verhoudings wat goed werk maak die lewe sinvol en die moeite werk. ‘n Oop, groeiende verhouding bly vol verrassings en misterie.

Comments are closed.

We Are On Facebook!
Contact Us

155 Relly Street
Sunnyside
Pretoria.
012-3444000
012-3443334

From Our Facebook Page

RSS Feed currently unavailable.

From Twitter